Papegaaiberg betrokkenheid 1990 tot 2009
INSETTE, SAMESPREKINGS EN ONDERHANDELINGE RAKENDE PAPEGAAIBERG, 1990 tot 2009
- ‘n Proses is op 14 Maart 1990 deur ‘n groep van ses inwoners van Stellenbosch geϊnisieer om die gemeenskap aktief en konstruktief betrokke te kry by aksies om Papegaaiberg as ‘n natuurgebied beplan, bestuur en bewaar te kry. ‘n Verslag “Die status en toekomstige benutting van Papegaaiberg tot voordeel van alle Stellenbossers” (verwys na BYLAE 1) is gedurende Maart 1990 opgestel.
- Die Maart 2009-verslag van die groep inwoners is as kommentaar op ‘n destydse konsep struktuurplan op 5 April 1990 aan die burgemeester oorhandig.
- Aanbevelings rakende hierdie Maart 2009-verslag is deur die Beplanning- en Ontwikkelingskomitee van die Stellenbosch Munisipaliteit gemaak (27 Junie 1990) en is op 17 Julie 1990 deur die Stellenbosch Stadsraad goedgekeur. Daar is onder andere aanbeveel: dat in samewerking met Dennis Moss Vennootskap as ‘n saak van dringendheid ondersoek ingestel word na die bewaring (en uitbouing) van Papegaaiberg tot voordeel van die gemeenskap; dat die opstellers van die voorstelle bedank word vir hulle postiewe bydrae en dat die persone genooi word om deel te neem aan die voorgestelde ondersoek.
- (Verwys na BYLAE 2.)
- Op 5 September 1990 rig die stadsklerk ‘n bedankingsbrief aan die groep van ses inwoners vir hulle positiewe bydrae. (Verwys na BYLAE 3.)
- ‘n Brief, gedateer 21 Februarie 1991, word aan die stadsklerk gerig om misnoë uit te spreek dat die aanbevelings rakende Papegaaiberg steeds nie in die konsep struktuurplan opgeneem is nie. (Verwys na BYLAE 4.)
- ‘n Berig verskyn in Die Burger van 27 Maart 1991: “Inwoners veg vir Papegaaiberg --- nuwe voorstelle ingedien”. (Verwys na BYLAE 5.)
- Die Stigting Simon van der Stel het in korrespondensie met die stadsklerk (1990) en die Raad van Nasionale Gedenkwaardighede (RNG) (1992) navrae gedoen om Papegaaiberg as ‘n nasionale gedenkwaardigheid verklaar te kry. (Verwys na BYLAE 6.)
- In opdrag van die Stellenbosch Munisipaliteit verskyn die “Planning Framework: Eerste River-Papegaaiberg & open space system” Draft report 1 (1993) deur Dennis Moss Vennootskap. (Verwys na BYLAE 7 vir die voorblad van die verslag.)
- Die hoof van Beplanning en Ontwikkeling van die Munisipaliteit van Stellenbosch nooi die groep van ses inwoners uit na ‘n komiteevergadering gehou op 21 Oktober 1993. (Verwys na BYLAE 8.) Drie van die groep inwoners, twee munisipale amptenare (die hoof en onderhoof van die betrokke afdeling), mnr. Dennis Moss en twee raadslede woon die vergadering by. Die konsep verslag (1993) van Dennis Moss Vennootskap is bespreek en daar is op nege punt ooreengekom en genotuleer. Daar word ook ‘n opvolg- vergadering vir 9 November 1993 belê. (Verwys na BYLAE 9.)
- ‘n Berig verskyn in Die Burger van 29 Desember 1993: “Papegaaiberg word bewaringsgebied.” Onder andere die volgende aanhalings: “Die stadsraad steun die verklaring van Papegaaiberg tot bewarings- en natuurgebied ten einde die bewaring daarvan as deel van die breër fynbosbioom, te verseker. Die stadsraad en gesamentlike bestuurskomitee het op hul onlangse maandvergadering ‘n aanbeveling aanvaar dat die nodige aksies aan die gang gesit word om die berg as bewarings- en natuurgebied verklaar te kry. In die struktuurplan word die Eersterivier- en Papegaaiberg-sisteme as baie belangrike elemente van die totale beplanningsaksie van Stellenbosch gesien”. (Verwys na BYLAE 10.)
- Op 4 Oktober 1996 is ‘n brief aan die stadsklerk gerig om besorgdheid uit te spreek oor die gebrek aan vordering rakende die nege punte waarop besluit is op die vergadering van 21 Oktober 1993. In opvolging van ‘n telefoniese gesprek op 10 Februarie 1997, word ’n brief, gedateer 13 Februarie 1997 van die stadsklerk ontvang waarin meegedeel word dat die genoemde items “… nog nie gefinaliseer is nie.” (Verwys na BYLAE 11.)
- Daar is op 18 Junie 1998 ‘n vergadering met munisipale amptenare, raadslede, Stellenbosse Belastingbetalersvereniging (SBV)-verteenwoordigers, ’n grond-eienaar (aangrensende eiendom met Papegaaiberg) en lede van die groep van ses inwoners gehou om besorgdheid oor die stand van sake rakende Papegaaiberg te bespreek. ‘n Opvolgvergadering is op 15 Julie 1998 gehou en ‘n voorlegging deur amptenare sou aan die Raad gedoen word.
- Op 16 Oktober 1999 word weer ‘n skrywe aan die stadsklerk gerig. (Verwys na BYLAE 12.) Die GOP-dokument was toe in plek en twee sake word in die brief uitgelig, naamlik die vasstelling van ‘n stedelike grens, asook die vordering wat gemaak word met gepaste beheermaatreëls/wetlike status (nasionale gedenkwaardigheid en/of natuurreservaat) van Papegaaiberg (spesifiek verwysend na GOP-verslag 3 van April 1999 op p 4 punt 2.22.3). Afskrifte van die brief is aan die hoof van Beplanning en Ontwikkeling, die verantwoordelike amptenaar vir die GOP, die hoof van Omgewing en Rekreasiebestuur en die verantwoordelike wyksraadslid gestuur. Die brief is ook by die SBV se Sentrale Bestuursvergadering van 19 Oktober 1999 bespreek.
- Twee lede van die groep van ses inwoners ontmoet verskeie munisipale amptenare op 2 Oktober 2002 te Papegaaiberg. Probleemgebiede in die berg word uitgewys. Teenwoordig was die hoof van Gemeenskapsdienste, ’n verteenwoordiger van die Afdeling Reinigingsdienste, asook die hoof en ’n beampte van die Afdeling Beskerming en Sekuriteit. Beloftes oor interdepartementele samewerking, asook die opskerping van veiligheidsmaatreëls is deur die hoofde van hierdie munisipale afdelings gemaak.
- Verskeie fases en konsepte van verslae van Dennis Moss Vennootskap verskyn (onder andere “Papegaaiberg spatial development plan, phase 2 report, June 2003”). Drie lede van die “Papegaaiberg Conservation Committee” (bestaande uit lede van die groep van ses inwoners, ‘n SBV-verteenwoordiger en ander belangstellende inwoners) besoek ’n senior werknemer van Dennis Moss Vennootskap op 1 Oktober 2003 om aspekte van die genoemde verslag te bespreek. Skriftelike kommentaar deur die drie persone word op 24 November 2003 aan Dennis Moss Vennootskap gerig, waarin onder andere gevra word vir die verklaring van Papegaaiberg as ‘n toepaslike entiteit met wetlike status as natuurgebied. (Verwys na BYLAE 13.)
- Die SBV rig op 1 Junie 2005 ’n brief aan die munisipale bestuurder om hul kommer oor die stand van Papegaaiberg uit te spreek (veral na die brand in Papegaaiberg), die geleidelike agteruitgang in die natuurlewe en die gebrek aan ’n geïntegreerde bestuurstrategie vir Papegaaiberg. Die SBV gee ook in dieselfde brief sy steun aan die Dennis Moss Vennootskap se beplanningsdokumente vir Papegaaiberg. (Verwys na BYLAE 14.)
- Die “Papegaaiberg Environmental Forum” (PEF) kom gedurende 2006 tot stand, met die bewaring van Papegaaiberg as natuurgebied as primêre oogmerk. ‘n Groot Stellenbosse-besigheid belowe fondse (aansienlike bedrag) vir die volhoubare bestuur van Papegaaiberg.
- Dennis Moss Vennootskap stel op 3 Julie 2006 ‘n memorandum op vir die burgemeester rakende die “Bioregional planning and management in Stellenbosch Municipality.” Papegaaiberg vorm ‘n integrale deel daarvan.
- Die PEF lewer op 22 November 2006 skriftelike kommentaar op die Papegaaiberg Ruimtelike Ontwikkelingsplan. (Verwys na BYLAE 15.)
- Op ‘n spesiale Burgemeesterskomiteevergadering op 13 Desember 2006 is sekere aanbevelings rakende Papegaaiberg gedoen. Daar is onder andere aanbeveel dat daar in Januarie 2007 met ’n proses begin word om die gebied na ‘n gepaste sonering te verander, ten einde Papegaaiberg as ’n natuurbewaringsgebied te vestig. Voorts moet daar onmiddellik begin word met die beheer van ongemagtigde toegang, effektiewe wetstoepassing plaasvind en fondse gedurende die hersiene Januarie 2007 begroting aangevra word. Daar moet ook ’n omgewingsbestuurstrategie en omgewingsbestuurplan vir Papegaaiberg opgestel word. (Verwys na BYLAE 16.)
- Die SBV rig op 28 Februarie 2007 ‘n brief aan die munisipale bestuurder rakende die toestand van Papegaaiberg en vra vir ‘n spoedige besluit deur die Raad oor die voorstelle vervat in die Dennis Moss-verslag. (Verwys na BYLAE 17.) Die SBV vereenselwig hom in die brief met die kommentaar van die PEF se skrywe van 22 November 2006. Afskrifte van die SBV-brief word ook aan die burgemeester en twee raadslede gerig. Op 16 April 2007 is ’n mededeling telefonies vanaf die Direktoraat Gemeenskapsdienste van die Stellenbosch Munisipaliteit ontvang dat die skrywes van die PEF en SBV aandag geniet en ’n vergadering reeds tussen die Direktoraat Gemeenskapdienste en twee werknemers van Dennis Moss Vennootskap op Vrydag 13 April 2007 plaasgevind het. Die Papegaaiberg-kwessie is op die agenda van die vergadering van departementshoofde van 17 April 2007 geplaas.
- Op versoek van die Stellenbosch Munisipaliteit besoek CapeNature Papegaaiberg gedurende 2007 met die oog op evaluering van die berg as ’n natuurreservaat en ‘n verslag word gedurende 2008 opgestel.
- Met ‘n brief van 7 Desember 2007 deur die PEF word nege pertinente vrae oor die bewaring en bestuur van Papegaaiberg aan die munisipale bestuurder gevra. (Verwys na BYLAE 18.) Daar is skriftelike terugvoer daaroor gegee op 18 Februarie 2008.
- Lede van die Natuurlike Omgewingswerkgroep van die SBV vergader op 6 Junie 2008 met direkteure van die Stellenbosch Munisipaliteit oor die onaanvaarbare toedrag van sake rakende Papegaaiberg (onder andere ook die kwessie van onwettige plakkery in ’n gebied wat bestem is vir ’n natuurreservaat (daar is ‘n hofbevel teen die Stellenbosch Munisipliteit rakende die plakkery)), asook die behuisingsituasie op Stellenbosch.
- Lede van die Sentrale bestuur van die SBV het op 19 Junie 2008 ‘n mislukte vergadering met die nuwe burgemeester, sekere raadslede en munisipale amptenare gehad. Die Raad het kwansuis nog nie ‘n standpunt oor Papegaaiberg-kwessies ingeneem nie en versoek dat die vergadering verdaag, maar nooi die SBV uit tot verdere skriftelike navrae.
- SBV rig op 7 November 2008 ‘n brief aan die munisipale bestuurder rakende spesifieke kwessies rakende Papegaaiberg. (Verwys na BYLAE 19.) Ten spyte van herhaalde pogings om reaksie op die brief te kry, is tot op hede niks ontvang nie.
- Op 30 Maart 2009 hou die SBV ‘n publieke vergadering in die stadsaal en twee vrae word oor Papegaaiberg gevra.
- Tydens ’n vergadering op 17 Junie 2009 met amptenare van die Direktoraat Gemeenskapsdienste van die Stellenbosch Munisipaliteit is melding gemaak dat sekere infrastruktuur aan die plakkersgebied in Papegaaiberg voorsien gaan word.
LW: hierdie dokument is vanuit ’n sekere blootstellings- en ervaringsperspektief en wil geensins voorgee dat daar nie ook ander inisiatiewe en perspektiewe rakende Papegaaiberg bestaan nie.
Verslag opgestel deur dr Jan Lombard
Inwoner van Stellenbosch (wyk 12)
Tesourier en lid van die SBV
20 Junie 2009