KONSTITUSIE VAN DIE STELLENBOSSE BELASTINGBETALERSVERENIGING
- WOORDOMSKRYWING
- In hierdie konstitusie, tensy uit die samehang anders blyk,
- beteken
- Algemene Jaarvergadering, die vergadering waarna in klousule 6.1 verwys word;
- Buitengewone Algemene Vergadering, die vergadering waarna in klousule 6.2 verwys word;
- Lede, die persone wat tot 19 Mei 1983 lede van die Vereniging was en alle persone wat daarna ooreenkomstig klousule 3.1 as lede aanvaar is en wie se lidmaatskap nie beëindig is nie;
- Munisipaliteit of Munisipale Raad van Stellenbosch, die verkose plaaslike owerheid van die groter Stellenbosch munisipale gebied;
- Sentrale Bestuur (SB), die bestuur soos in klousule 5.2 beskryf;
- Stellenbosch, Stellenbosch dorp en omgewing, wes van Simonsberg asook Johannesdal en Kylemore;
- Vereniging, die Stellenbosse Belastingbetalersverening (SBV);
- Wyksbestuur of Wykskomitee, die bestuur wat in elk van die wyke verkies word, soos in klousule 5.1 beskryf;
- sluit woorde wat die enkelvoud aandui ook die meervoud in en omgekeerd, en sluit die manlike geslag ook die vroulike en onsydige geslagte in.
- REGSPERSOONLIKHEID Die Vereniging:
- bestaan onafhanklik van sy lede;
- bestaan nieteenstaande veranderinge aan sy lidmaatskap en bestuurslede;
- het die vermoë om eiendom te besit;
- het die vermoë om regsgedinge in te stel en teen te staan.
- beteken
- DOELSTELLINGS Die Vereniging stel hom ten doel om
- alle persone wat belange in Stellenbosh het, saam te snoer;
- die besondere karakter van Stellenbosch en omgewing te handhaaf en uit te bou;
- volhoubare groei en ontwikkeling van die dorp en bewaring van sy natuurlike en landelike omgewing na te streef;
- ‘n bydrae te lewer ten opsigte van veral die beplanningsfunksies van die Munisipaliteit;
- ‘n aktiewe belangstelling in alle fasette van plaaslike bestuur by die inwoners aan te wakker;
- die regmatige belange van alle inwoners van Stellenbosch te beskerm en te bevorder.
- LIDMAATSKAP
- Lede
- Enige persoon
- wat die doelstellings soos vervat in die grondwet van die Vereniging onderskryf, en
- wat kwalifiseer om as munisipale kieser in Stellenbosch geregistreer te word, of wat bewys aan die SB kan voorlê dat hy gereeld munisipale diensgelde en/of eiendomsbelasting betaal, sowel as die gade of gesel van sodanige persoon, kan aansoek doen om lid van die Vereniging te word.
- Aansoeke om lidmaatskap moet op die voorgeskrewe vorm geskied en aan die Sentrale Bestuur vir oorweging voorgelê word.
- Lidmaatskap vir enige jaar strek van 1 Januarie tot 31 Desember.
- Enige persoon wat aan klousule 3.1.1(a) en (b) voldoen mag aansoek doen om lewenslange lidmaatskap.
- Die Sentrale Bestuur mag dit oorweeg om ere-lidmaatskap aan verdienstelike persone toe te ken.
- Enige persoon
- Beëindiging van lidmaatskap
- Indien ‘n ingeskrewe lid toelaat dat sy ledegeld meer as een jaar agterstallig is, word sy naam en volle besonderhede so gou moontlik deur die tesourier aan die Sentrale Bestuur voorgelê. Die Sentrale Bestuur kan dan besluit om sy lidmaatskap te beëindig.
- Indien ‘n lid strydig met die bepalings van die konstitusie handel, word sy naam en volle besonderhede deur die sekretaris op die eerste vergadering ná bewuswording van sodanige optrede aan die Sentrale Bestuur voorgelê.
- Die Sentrale Bestuur handel die saak af; sodanige afhandeling kan die beëindiging van lidmaatskap sonder opgaaf van redes insluit.
- ‘n Lid wie se lidmaatskap beëindig is, kan aansoek om hertoelating as lid doen. Sodanige aansoek word deur die Sentrale Bestuur oorweeg.
- ‘n Lid kan sy lidmaatskap beëindig deur skriftelike kennisgewing.
- Lede
- LEDEGELD
- Die finansiële jaar van die Vereniging strek van 1 Januarie tot 31 Desember.
- Jaarlikse ledegeld is vooruitbetaalbaar vanaf 1 Januarie.
- Ledegeld vir lewenslange lidmaatskap is eenmalig betaalbaar.
- Die jaarlikse en lewenslange ledegeld word van tyd tot tyd deur die Sentrale Bestuur vasgestel.
- Erelidmaatskap is vrygestel van ledegeld.
- ORGANISASIESTRUKTUUR
- Wykskomitees
- Vir elkeen van die wyke waarop die Vereniging by ‘n algemene vergadering, of die Sentrale Bestuur mag besluit, word ‘n wyksbestuur van vier of meer wykslede (soos deur die Vereniging of die Sentrale Bestuur besluit) as bestuurslede verkies.
- Om tot die wyksbestuur verkies te kan word moet ‘n lid in die wyk wat hy of sy verteenwoordig woonagtig wees en moet hy of sy ten minste een volle jaar se lidmaatskap van die Vereniging voltooi het.
- Die lede van die wyksbestuur word gekies by ‘n vergadering van lede van die betrokke wyk. Van hierdie vergadering word minstens twee weke voor die datum daarvan skriftelik kennis gegee aan al die lede van die wyk. Die aanwesige lede vorm ‘n kworum.
- Twee bestuurslede tree jaarliks op ‘n rotasiebasis uit, maar is herkiesbaar.
- Die voorsitter van die wyksbestuur word deur die lede van die wyksbestuur uit eie geledere gekies.
- As vakatures in ‘n wyk ontstaan kan die Sentrale Bestuur, na raadpleging van die bestuurslede van die betrokke wyk, lede uit die wyk aanwys om die vakatures te vul.
- Sentrale Bestuur (SB)
- Die wyksbestuurslede van al die wyke saam vorm die Sentrale Bestuur.
- Die Sentrale Bestuur besluit oor sy getal vergaderings per jaar.
- By vergaderings van die SB vorm die helfte van die getal lede ‘n kworum.
- ‘n Bestuurslid wat drie keer agtereenvolgens sonder aanvaarbare rede afwesig van vergaderings van die SB is, kan sy lidmaatskap van die SB verloor. Die SB kan dan die vakature vul soos bepaal in klousule 5.1.6.
- Die SB mag lede koöpteer. Die gekoöpteerde lede het dieselfde regte en voorregte as gewone bestuurslede. As lede van die Vereniging wat op die munisipale raad dien op die SB gekoöpteer word, word hulle uitgesluit van klousules 5.2.3, 5.2.4 en 5.3.1.
- Belangegroepe uit die gemeenskap wat die doelstellings van die SBV onderskryf, kan aansoek doen om verteenwoordiging op die SB. Sodanige aansoek sal deur die SB oorweeg word. ‘n Belangegroep kan deur hoogstens twee persone, wat op die gewone wyse aansoek om lidmaatskap van die Vereninging moet doen, verteenwoordig word. Hulle word egter uitgesluit van klousules 5.2.3, 5.2 4 en 5.3.1.
- Dagbestuur en Verslaekomitee
- Die Sentrale Bestuur kies uit eie geledere ‘n Voorsitter, Onder-Voorsitter, Sekretaris, Tesourier en een bykomende lid, wat ‘n Dagbestuur vorm.
- Die Dagbestuur sal die administratiewe en finansiële bestuur van die Vereniging hanteer en in spoedeisende gevalle besluite neem en sake afhandel met dien verstande dat die Dagbestuur sy optrede aan die eersvolgende vergadering van die Sentrale Bestuur sal rapporteer.
- Die Voorsitter mag hoogstens drie termyne van een jaar elk agtereenvolgens dien.
- Die Sentrale Bestuur kies ook uit eie geledere ‘n Verslaekomitee van drie lede wat aan die SB moet rapporteer oor die werksaamhede van die Munisipale Raad, sy vaste komitees en adviserende of ad hoc komitees.
- Die Voorsitter tree as voorsitter op by alle vergaderings van die Vereniging, die Sentrale Bestuur en die Dagbestuur. Indien die Voorsitter nie aanwesig kan wees nie moet ‘n lid van die SB deur die vergadering aangewys word om in sy plek waar te neem.
- Werksgroepe
- Die SB kan werksgroepe (WGe) saamstel om data te versamel en te verwerk ten einde die SBV in staat te stel om in belang van sy lede, pro-aktief en doeltreffend op te tree t.o.v. plaaslike regering aangeleenthede en veral t.o.v. plaaslike beplanning en ontwikkeling.
- So ‘n WG kan bestaan uit ongeveer 5 tot 20 lede waarvan minstens 2 lede van die SB moet wees ten einde skakeling met die SB te behou en verseker.
- Die ander lede van die WG kan ander lede van die SBV of nie-lede wees, wat kennis dra van en belangstel in die saak (sake) waarmee die WG hom besig hou.
- Alhoewel die Sentrale Bestuur riglyne aan ‘n WG kan voorstel, kan die WG sy eie werksmetode en –program volg en sal die SB geen veto-reg oor sy aktiwiteite hê nie.
- Elke WG moet minstens twee keer per jaar aan die SB verslag doen oor sy aktiwiteite. Gereelde en volledige rapportering aan die SB moet nagestreef word.
- Voordat ‘n WG of sy lede openbare optrede of die bekendmaking van standpunte namens die SBV wil onderneem, moet die goedkeuring van die SB eers verkry word.
- Wykskomitees
- VERGADERINGS
- Algemene Jaarvergadering
- Verkieslik voor 31 Maart, maar nie later as 15 April, word ‘n algemene jaarvergadering van lede van die Vereniging gehou.
- Die Sentrale Bestuur bepaal die datum van sodanige vergadering en stel die sakelys daarvoor op.
- By die algemene jaarvergadering lewer die voorsitter verslag oor die werksaamhede van die vorige jaar.
- Die tesourier dien ‘n finansiële verslag in vir goedkeuring deur die algemene jaarvergadering.
- Buitengewone Algemene Vergadering
- ‘n Buitengewone algemene vergadering word deur die Sentrale Bestuur belê indien minstens 20 lede daarom vra of indien die Sentrale Bestuur daartoe besluit.
- Net die sake waarvoor ‘n buitengewone algemene vergadering belê is, mag op sodanige vergadering behandel word.
- As die Sentrale Bestuur nie binne veertien dae vanaf die datum van inlewering van ‘n versoekskrif ooreenkomstig klousule 6.2.1 ‘n buitengewone algemene vergadering belê nie, kan die aanvraers self so ‘n vergadering belê; vir dié doel moet aan die vereiste van klousule 6.3.6 voldoen word.
- Algemene Bepalings
- By alle algemene vergaderings vorm 20 lede ‘n kworum.
- As daar by ‘n algemene vergadering geen kworum teenwoordig is nie, moet ‘n opvolg vergadering binne veertien dae gehou word; in dié geval sal die besluite van die aanwesige lede geldig wees.
- Alle besluite van ‘n algemene vergadering word geneem met ‘n gewone meerderheid van stemme, buiten wanneer gestem word oor veranderings aan die konstitusie soos bepaal in klousule 10.
- Daar word gestem met die opsteek van hande of met stembriewe indien so gereël deur die voorsitter.
- By ‘n staking van stemme het die voorsitter naas sy gewone stem ook ‘n beslissende stem.
- Van alle algemene vergaderings word minstens twee weke voor die datum van die vergadering skriftelik of elektronies kennis gegee.
- ‘n Lid kan ‘n beskrywingspunt vir ‘n algemene vergadering voorlê mits hy die sekretaris minstens drie weke voor die datum van die vergadering amptelik van die voorstel in kennis stel.
- Elke lid is geregtig om ‘n ander lid as sy gevolmagtigde aan te wys om namens hom ‘n algemene vergadering by te woon en te stem. Volmag word deur middel van ‘n voorgeskrewe vorm verleen. ‘n Gevolmagtigde mag slegs namens een lid optree.
- Algemene Jaarvergadering
- NOTULES
- Die Sentrale Bestuur moet sorg dat van sy eie vergaderings en algemene vergaderings behoorlik notule gehou word.
- Die notules van vergaderings van die Sentrale Bestuur asook van algemene vergaderings, hetsy algemene jaarvergaderings of buitengewone algemene vergaderings, moet behoorlik in ‘n notuleboek geskryf of, indien op los blaaie, daarin geplak word.
- BOEKHOUDING
- Die Sentrale Bestuur moet seker maak dat alle fondse van die Vereniging behoorlik geadministreer en van alle geldsake boekgehou word ooreenkomstig die reëlings in die huishoudelike reglement.
- Vir alle uitbetalings uit die bank- of bougenootskaprekening moet geteken word deur enige twee van die volgende: voorsitter, onder-voorsitter, sekretaris en tesourier.
- Teen die einde van Desember van elke jaar wys die SB ‘n bevoegde persoon aan as interne ouditeur om die boeke en rekords wat deur die tesourier gehou is, na te sien.
- Die persoon wat ‘n oudit uitvoer, dien vyf weke voor die algemene jaarvergadering ‘n skriftelike verslag by die voorsitter van die Sentrale Bestuur in en voorsien die tesourier met ‘n kopie daarvan.
- Die Voorsitter lê die skriftelike verslag van die ouditeur aan die algemene jaarvergadering voor.
- HUISHOUDELIKE REGLEMENT
- Die Sentrale Bestuur stel ‘n huishoudelike reglement op wat nie strydig met die kostitusie mag wees nie, om die funksies, pligte en werkswyse van die Sentrale Bestuur, die Dagbestuur en die Wyksbesture te omskryf. Dié reglement mag van tyd tot tyd deur die Sentrale Bestuur gewysig word.
- In geval van enige teenstrydigheid in interpretasie tussen die konstitusie en die huishoudelike reglement, het die konstitusie oorheersende gesag.
- WYSIGINGS VAN DIE KONSTITUSIE
- Voorstelle vir wysigings in of byvoegings tot die kostitusie moet duidelik geformuleer en aan die Sentrale Bestuur voorgelê word vir ‘n aanbeveling aan die algemene jaarvergadering.
- Wysigings in of byvoegings tot die konstitusie mag alleen deur ‘n tweederde meerderheid van die aanwesige lede op ‘n algemene vergadering aangeneem word.
- Beeïndiging
- Die bestaan van die Vereniging kan beeïndig word deur ‘n besluit van die Algemene Vergadering geneem op aanbeveling van die Sentrale Bestuur, met dien verstande dat ‘n tweederde meerderheid van die aanwesige lede by die Algemene Vergadering vir sodanige beeïndiging stem;
- In diegeval van sodanige beeïndiging sal dit die plig wees van die Sentrale Bestuur om die bates van die Vereniging, nadat al die Vereniging se laste betaal is, oor te dra aan ‘n ander soortgelyke vereniging wat die belange van die inwoners van Stellenbosch op plaaslike regeringsvlak sal bevorder.
Nota: ‘n Konstitusie van die Stellenbosse Belastingbetalersvereniging is deur ‘n algemene vergadering op 19 Mei 1983 goedgekeur en het op daardie dag in werking getree. Wysigings daarin is aangebring deur ‘n buitengewone vergadering gehou op 26 Julie 1984, die algemene jaarvergadering van 21 Maart 1989, die algemene jaarvergadering van 20 Maart 1990 en ‘n buitengewone algemene vergadering van 17 Maart 1997. Die konstitusie is na die munisipale verkiesing van 2000 en die wysigings in plaaslike regering wetgewing herskryf en deur ‘n algemene jaarvergadering op 3 Maart 2003 aanvaar. Wysigings daarin is aangebring deur die algemene jaarvergadering van 25 Maart 2004, ‘n buitengewone algemene vergadering van 31 Augustus 2004, die algemene jaarvergadering van 4 April 2005 en die algemene jaarvergadering van 14 April 2008.