Uitspraak beveilig boere se waterregte
Kaapstad. - Agri SA het vandeesweek ’n belangrike sege teen die regering behaal oor eensydige beperkings wat op boere se regte geplaas is.
Dié keer gaan dit oor waterregte, nadat die hof reeds ten gunste van Agri SA beslis het in ’n saak wat oor die oordrag van boere se mineraleregte gaan.
Die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria het Vrydag beslis dat die departement van waterwese fouteer deur die regstel van rasse- en geslagsdiskriminasie as oorheersende faktor in die toekenning van waterregte te gebruik, terwyl tien ander faktore ook in ag geneem moet word.
Die hof het die praktyk deur die departement van waterwese as onbekwaamheid bestempel.
In die praktyk het dit daarop neergekom dat kommersiële boere sukkel om waterregte van een eienaar na ’n ander oor te dra omdat die owerhede dit nie wil goedkeur nie as die aansoeke nie aan streng bemagtigingsvereistes voldoen nie.
Omdat die waterregte nie gebruik kan word nie, gaan baie potensiële inkomste verlore.
Die saak spruit uit die aansoek van Goede Wellington Boerdery om regte vir die gebruik van water uit die Bergrivier oor te neem wat deur die buurplaas ECPA Boerdery gehou is. Die aansoek is eers deur die departement van waterwese en toe deur die watertribunaal van die hand gewys.
In die lig hiervan het Agri SA besluit om die aansoek van Goede Wellington Boerdery in die hooggeregshof verder te voer.
Mnr. Johannes Möller, president van Agri SA, sê die organisasie het sedert 2007 met die departement onderhandel om ’n ooreenkoms te probeer bereik oor die toepassing van art. 27(1) van die Nasionale Waterwet, Wet 36 van 1998.
“Talle aansoeke is afgekeur deur slegs voldoening aan art. 27(1)(b) te vereis terwyl die ander vereistes oënskynlik ondergeskik daaraan gestel is,” sê hy.
“Die artikel verwys na die behoefte om rasse- en geslagsdiskriminasie van die verlede reg te stel.”
In sy uitspraak in die Noord-Gautengse hooggeregshof het regter James Goodey beslis dat die departement van waterwese en die watertribunaal ’n wesenlike regsfout begaan het deur die behoefte aan regstellende aksie in art. 27(1)(b) as ’n oorheersende faktor te beskou by die beoordeling van aansoeke om watergebruiksregte of die oordrag daarvan.
Dié vereiste is net een van 11 relevante faktore wat deur art. 27(1) in ag geneem moet word. Van die ander faktore is die doeltreffende en voordelige gebruik van water en die sosiaal-ekonomiese impak van watergebruik.
Die regter het ook beslis dat die besluit van die watertribunaal in Goede Wellington Boerdery se geval nie net tersyde gestel moet word nie, maar die oordrag van waterregte van ECPA Boerdery na Goede Wellington Boerdery moet magtig.
Die departement is voorts gelas om saam met die watertribunaal die regskoste te betaal omdat daar volgehou is met die verkeerde toepassing van art. 27(1)(b).
Die optrede van die watertribunaal is aan onbekwaamheid toegeskryf.
Sake24.com
Posted on 21/08/2011 by Hennie Duvenhage